Verbode liefde
Deur Marietjie Grove
As moeg teen jou oë klop
en diewe jou nagrus gryp,
jou hart aritmies tok
en broos om genade pleit.
As die denker gevoelvol sy stryd
rasioneel verloor teen Vader tyd,
en lugraak na wense gryp.
Here, wat is die nut om by U te pleit?
As woorde rukkend tot sterwe kom,
‘n bors toetrek asma-stom,
en bakhand vir hitte vra
teen die seerkry pyn wat ysig dra.
Die hart word tot as verskroei
en eensaamheid weerklink soos winde se loei,
as ‘n enkel spoor teen die skuinste lê -
Is daar liefde waaroor jy niks mag sê?