Wie is jy?
Deur Marietjie Grove

Daar’s ‘n soeke in my siel
na ‘n rusplek waar seer
kan sterk maak, en
einas nie doodmaak,
waar omgee net dit beteken
en die waarheid sonder draaie loop,
waar ek met jou kan praat sonder vrees
en jy my siel se soeke na vryheid
sal verstaan, maar my liggaam se
vreugde in jou toevou sal soek.

Daar’s ‘n soeke in my siel
na Karoo-nagte se sterreprag
die godsverlate vrede van woestynsand
‘n sonsondergang en seesproei teen my wang
Berge waar ‘n arend drome vang
vlaktes skreeuend in blommedrag
en die vreugde oor water in ‘n gatdam

Sou jy diep genoeg delf na my siel,
sou ek jou na waarde ag
kom reis dan saam
in velde waar gras baldadig dans,
waar jy kniel oor die reuk van reën
en huil oor die prag van stilte
waar ‘n voël se fluit jou katvoet gee
en vlaktes jou tot gebed beweeg.

‘n Tarrentaal se roep het heimwee in…

Terug na indeks Epos die skrywer