Skelet
deur Natalie Dominique
Ek sien jou staan
In die koesterende strale
Van die sonsopkoms
Eensaam teen Klapperkop se hang
Ek sien jou staan
Kaalgestroop van jou loof
Brandletsels swart soos ru-olie
Stille tekens van hoeveel veldbrande
Ek sien jou staan
Jou takke in blinde uitreiking
Smekend, bedelend
Vir ‘n laaste arendsnes
Ek sien jou staan
En hoor jou sagte ween
Oor blomme wat nooit weer sal wees
En ook soete heuning vir ewig weg
Ek sien jou staan
Met ‘n stille traan in my hart
Wonderend wanneer ook jy
In die plunderaarsvuur sal beland