Vriendin
deur Natalie Dominique
Sy is daar in die middel van die nag
wanneer die duiwels pla
Wanneer groteske gedagtes woer-woer speel
Wanneer die seer te veel raak
en die slaap eenkant staan en lag
Wanneer my reservoir van trane my kussing oorstroom
Wanneer my maag ‘n maalkolk van angstige aasvoëls is
Sy is daar vroegoggend,
Sy is daar in die middel van die dag
Wanneer ons ‘n wedloop hardloop
Wanneer ons die winkels leegkoop met ons oë
Wanneer ons oor ‘n koppie koffie
ons diepste geheime deel
Wanneer ons sommer spontaan skaterlag
Wanneer my hart borrel van geluk