Hoëveld
deur Riane Venter

In die Hoëveld vou
digte miswolke,
handewringend vroegdag
die wêreld selfsugtig, dog sag
in sy arms toe, totdat die son
met giftong warm die stryd wen..
Dan sien jy verspreid
en yl uitgestrek lê die velde wyd..
die vêr vloeiende grassade,
groen wilgerbome
dorstige some
langs stadig kabbelende
smal ysstroompies.
n Sirkelvisie alom alom.....
so ver as die oog opsom.
Vet wollerige skape en lui
troppe beeste wei
gerus, gedwee,
gesus.
Verlate houtstompe troon
ou Don Juan se kroon.
Dis n vuil plaaswinkeltjie....
neffentjies nestel teen n vervalle murasie.
Wuiwend buig n lang grashalm
bo uitgeholde miershope en talm
swygend in verwagting
op die koms van die reën.
Ruwe swart klipbanke hyg langs rooi
rou geploegde lande, die oes nooi
om bed te maak in sy sooi.
Bloekombome soldaat regop, ingehak
in gelid om die jong vee se kamp
waar hulle speel en koppe stamp.
Groot plaashuis deur bome omsoom,
luier in die middaghitte loom
skadukolle hou die toneel
in geheimsinnigheid...
n prentjie tafereel.
Deinserige wit lug bo
enkele verflenterde wolke sweef
weg op vloeinde sagte wind
tot hul aan die einder weer saambind,
wolkkolom van hoop
wat lewe in strome laat loop.
Rye werkershuisies staan verkrompe
halfnaak naby winkende windpompe...
en gapende verspoelde dongas.
Lugspieeling kul in die son se hitte
en maak die oë lui en loom.
Vliesige blou rante
wink in die verte,
deinende heuwels
nestel skugter nes herte,
half selfbewus
teen mekaar,
in die Hoëveld.

Terug na indeks Epos die skrywer